25 May Gaan Ek Geswartlys Word Indien Ek Aansoek Doen Vir Skuldberading?
Kom ons begin by die begin. Daar is nie iets soos ’n skuld swartlys nie. Dit is ’n term wat vroeërjare ontstaan het omdat kredietburo’s net negatiewe informasie van kliënte gehou het. Tye het verander. Kredietburo’s hou deesdae positiewe en negatiewe data. Tog het die swartlys term gebly en praat ons Suid-Afrikaners vandag nog daarvan dat indien iemand geswartlys is, kan hulle nie aansoek doen vir lenings nie.
Krediteure kyk deesdae na jou hele kredietprofiel. Soos jou betalingfrekwensie, betaal jy klokslag elke maand jou skuldpaaiement of vergeet jy soms om te betaal. Is daar van jou rekeninge wat agterstallig is? Dalk is daar ’n krediteur wat ’n vonnis teen jou geneem het. Hierdie tipe informasie gee vir almal ’n kredietgradering (creditscore) en dit is een deel wat bepaal of jy kredietwaardig is of nie.
Die volgende faktoor wat ’n krediteur moet in ag neem is of jy die nuwe skuld paaiement gaan kan bekostig. Dit beteken dat al is jou kredietprofiel blinkskoon gaan hulle steeds jou aansoek vir skuld afkeur as jy nie genoeg geld het om daardie skuldpaaiement te kan betaal nie. As ’n krediteur vir jou skuld gee en jy kan dit nie bekostig nie is hulle skuldig aan roekelose kredietverlening.
Die vraag wat jy eintlik wil vra is of jy steeds skuld sal kan maak indien jy onder skuldberading is.
Die antwoord op daardie vraag is, nee.
Enige krediteur wat skuld vir iemand gee wat reeds onder skuldberading is maak hulself skuldig aan roekelose kredietverlening.
Dalk is die beter vraag wat jy jouself moet vra, kan jy nog skuld bekostig? Indien ja, het jy beslis nie die dienste van ’n skuldberader nodig nie. Indien nee, gaan jy moontlik nie eers kwalifiseer vir nog skuld nie.
Wat gebeur wanneer iemand aansoek doen vir skuldberading is dat jou skuldberader jou naam moet lys by die Nasionale Kredietreguleerder. Sodra jou naam daar gelys is, word daar ’n notifikasie op jou kredietprofiel geplaas wat sê dat jy aansoek gedoen het vir skuldberading.
Sodra jy die skuldberadingsproses voltooi het gaan jou skuldberader vir jou ’n klaringsertifikaat gee en word daardie notifikasie vanaf jou kredietrekord verwyder. Dit beteken dat jou kredietprofiel is weer skoon. Al jou skuld is opbetaal en alle tekens dat jy ooit onder skuldberading was verdwyn.
’n Nuwe krediet begin.
Indien jy hulp met jou skuld benodig, voltooi gerus jou kontak besonderhede op Hulp met Skuld se webtuiste. Kom ons kyk hoe Hulp met Skuld vir jou kan help met jou skuld.
Sorry, the comment form is closed at this time.